TUISBLAD

DIENSTE &
VOORDELE

TABOK IN BEDRYF

GRONDWET

HULPMIDDELS

NAVORSING

LITIGASIE

WETGEWING

AANSOEK

KONTAK ONS

SKAKELS

 

 

GRONDWET VAN TABOK WERKGEWERSORGANISASIE

 

1.                  NAAM 

Die naam van die Organisasie is Tabok Werkgewersorganisasie, kortweg genoem TWO, hierin later genoem die Organisasie. Die Organisasie sal nie op winsbejag ingestel wees nie en sal dus ’n nie-winsgewende organisasie wees. 

2.                  WOORDOMSKRYWING 

In hierdie Grondwet het enige uitdrukking wat in die Wet op Arbeidsverhoudinge 1995 (Wet 66 van 1995) omskryf word, dieselfde betekenis as in die Wet; en beteken 

“Beheerliggame”                               soos gedefinieer in Artikel 16 (1) van die Skolewet Wet 84 van 1996 soos gewysig.

“Bestuurskomitee”                            Die UR plus addisionele verkose lede en/of werknemers van die Organisasie.

“Kongres”                                        hoogste gesag van die Organisasie wat jaarliks en/of soveel kere as wat nodig is, byeenkom en bestaan uit verteenwoordigers van alle lede.

“Onderwysinstellings”                        alle amptelike en privaat instellings wat funksioneer as laerskole, hoërskole en tersiêre inrigtings.

“Skolewet”                                       Wet 84 van 1996 soos gewysig.

“Tabok Werkgewersorganisasie”        die Organisasie volgens hierdie Grondwet gestig en bedryf in terme van Artikel 8 van Wet 95 van 1995 – Wet op Arbeids-verhoudinge.

“Uitvoerende Raad”                           amptelike Dagbestuur van die TWO.

“Werkgewers”                                  alle instansies, organisasies en ander instellings wat personeel in diens het. 

3.                  TERREIN VAN BELANGEGROEP 

3.1        Die Organisasie rig hom op die belangegroepe binne professionele verband synde die Beheer-liggame van Artikel 21-skole in terme van Artikel 16 (1) van die Suid-Afrikaanse Skolewet, Wet 84 van 1996, ooreenkomstig die toelatingsbeleid soos deur die Kongres van tyd tot tyd goedgekeur, en belangegroepe wat met mekaar wil assosieer in werkgewersverband, wat binne sowel as buite bepaalde verhoudinge met owerheidsinstellings as werkgewers gevestig is. 

3.2                           Die Organisasie rig hom binne die arbeids- sowel as wetlike terreine waar met onderwysinstellings, vakbonde en ander wetlik gestruktureerde instellings op individuele en kollektiewe basis beding kan word. 

4.                  DOELSTELLINGS / OOGMERKE 

4.1        Die Organisasie het as hoofdoelstelling om verhoudinge te reël tussen sy lede as werk­gewers aan die een kant, en die lede se werknemers en/of daardie werk­­nemers se vakbond(e) aan die ander kant. Die Organisasie sal by magte wees om sy lede te verteenwoordig en namens hulle op te tree: 

4.1.1          in die aangeleenthede in verband met die regulering van daardie verhouding; 

4.1.2     in kollektiewe bedinging en die sluit van ooreenkomste met enige van of al hulle werk­nemers, of laasgenoemde se verteenwoordigers ten aansien van lone, salarisse, by­voor­dele, diensvoorwaardes of enige ander aangeleentheid van onderlinge belang; 

4.1.3          in arbeidsgeskille waarby hulle betrokke is; 

4.1.4     om adviseurs (insluitend, maar nie beperk nie tot, prokureurs en advokate) aan te stel, of opdrag te gee om die oogmerke van die Organisasie te bereik; 

4.1.5     om die belange van lede te bevorder deur inligting te versprei wat voordelig is om die oogmerke van die Organisasie te bereik, of wat in belang van die lede is; 

4.1.6          om by ’n federasie aan te sluit of lidmaatskap van ’n federasie of vereniging wat aansoek doen om lidmaatskap, sodanige aansoek om lidmaatskap goed, of af te keur; 

4.1.7          om in belang van lede enige voorgestelde wetgewing en ander maatreëls wat lede se belange raak, te bevorder, te ondersteun of teen te staan; 

4.1.8          om roerende en onroerende eiendom van of vir die Organisasie by wyse van aankope,         huur of andersins te bekom of te verkoop, te verhuur, of met ’n verband te beswaar, of om in belang van die lede daarmee te handel; 

4.1.9          om fondse vir die voordeel van die lede en hulle afhanklikes in te stel en te administreer; 

4.1.10      om die fondse van die Organisasie na goeddunke van die Bestuurskomitee aan te wend;   

4.1.11      om opleidingsprogramme tot die voordeel van die lede en hulle werknemers in te stel en van stapel te stuur;  

4.1.12      om die reg tot uitsluiting in belang van sy lede te rig en wetlik toe te pas; en 

4.1.13      om die Organisasie se administrasie en wettige aktiwiteite te beplan en organiseer. 

5.                  RIGLYNE VIR OPTREDE 

Verder beywer die Organisasie hom om binne wetlike riglyne die demokratiese waardes en beginsels wat in die Grondwet verskans is, beheersd toe te pas ten einde: 

5.1               billike arbeidspraktyke te bevorder; 

5.2               aan kollektiewe bedinging mee te doen; 

5.3               sektorale bedinging aan te moedig; 

5.4               die demokratiese waardes van menswaardigheid, gelykheid en vryheid te eerbiedig; 

5.5               die regte in die Handves van Regte te eerbiedig, te beskerm, te bevorder en te verwesenlik; 

5.6       onderlinge verhoudinge tussen sy lede te reël; 

5.7               oor die algemeen en in samewerking met soortgelyke verenigings, arbeidsverhoudinge tussen werkgewers en werknemers te reël; 

5.8               die formulering van wetgewing wat op sy lede betrekking het, te beïnvloed; 

5.9               sy lede oor en in arbeidswetgewing en ander tersaaklike wetsbepalings op te lei; 

5.10           sy lede van advies en bystand te voorsien; 

5.11           veeltaligheid aan te moedig; en 

5.12      kultuur-, godsdiens- en taalverenigings en ander organe van die burgerlike gemeenskap waarvan sy lede lid is, te ondersteun en waar prakties moontlik, in stand te hou. 

6.         STATUS VAN DIE WERKGEWERSORGANISASIE : ARTIKEL 95 (5) (a) 

6.1       Die Organisasie word hiermee met regspersoonlikheid beklee en sal, nieteenstaande enige ver-andering van sy lede of sy Uitvoerende Raad, as ’n nie-winsgewende organisasie met afsonderlike regspersoonlikheid bly voortbestaan en sal in eie naam, en onafhanklik van sy lede, bates besit en laste en verpligtinge aangaan en sal in eie naam, en onafhanklik van sy lede, regsgedinge aanhangig maak of teëstaan, of gedagvaar word. 

7.                   LIDMAATSKAP : ARTIKEL 95 (5) (b) 

7.1        Lidmaatskap sal geld vir Beheerliggame van Artikel 21-Skole wat in terme van Artikel 16 (1) van die Suid-Afrikaanse Skolewet, Wet 84 van 1996, verkies is, sowel as vir enige assosiasie met wetlik gefundeerde federasies/organisasies van persone wat ‘n ander persoon of meerdere persone in diens hou of werk aan die ander persoon of meerdere persone ver­skaf, en wat die ander persoon(e) vergoed of uit­druklik of stilswyend onder­neem om die ander persoon(e) te ver­goed. Hierdie lidmaatskap is onderhewig aan die toelatingsbeleid soos deur die Kongres van tyd tot tyd goedgekeur.

 

7.2        Aansoeke om lidmaatskap moet skriftelik gedoen word. Die aansoek moet vergesel word van:

 

7.2.1    die voorgeskrewe toetredings- en jaargeld;

 

7.2.2     ‘n voltooide skriftelike debietaftrekkingsmagtiging vir die betaling van maandlikse lidmaat-skapgeld; en

 

7.2.3          skriftelike besonderhede van die aantal werknemers in die lid se diens, asook ’n uiteen-setting van die kategorieë en sektor(e) waarin die lid se werknemers werksaam is.  

7.3               Aansoeke om lidmaatskap sal soos volg hanteer word:

 

7.3.1     Aansoeke om lidmaatskap word deur die Bestuurs­komitee na goeddunke, maar sonder om onbillik te diskrimineer, oorweeg en toege­ken of afgewys. Die Algemene Sekretaris sal die aansoeker binne (30) dertig dae ná ontvangs van die aansoek, skriftelik van die Bestuurskomitee se besluit in kennis stel.

 

7.3.2     Indien ’n aansoek om lidmaatskap afgewys word, sal sodanige aansoeker ’n appèlreg teen sodanige besluit hê na die eersvolgende Algemene Jaarvergadering van die Organisasie, wat die bevoegdheid sal hê om die Bestuurskomitee se besluit tersyde te stel of te handhaaf. Sodanige appèl moet skriftelik geskied en moet ten minste (4) vier weke vóór die Algemene Jaarvergadering by die Algemene Sekretaris ingedien word. Indien die Algemene Jaarvergadering by wyse van ’n twee-derde meerderheidsbesluit van die teenwoordiges besluit om die aansoe­ker toe te laat, word die aansoeker as lid toegelaat.

 

7.3.3          Indien ’n aansoek afgewys word en die Algemene Jaarvergadering daardie besluit van die Bestuurskomitee handhaaf, sal die Algemene Sekretaris die aansluitingsfooi en jaargeld wat die aansoek vergesel het, aan die aansoeker terugbetaal.

 

7.4       Die volgende indeling van lidmaatskap bestaan:

 

7.4.1    Kategorie A-Lidmaatskap:

Katego­rie A is lede wat 1 tot 5 werknemers in diens het of hou en wat die voorgeskrewe toetredings-, jaar­geld en maandlikse lidmaatskap­geld ten volle betaal het.

 

7.4.2    Kategorie B-Lidmaatskap:

Katego­rie B is lede wat 6 tot 10 werknemers in diens het of hou en wat die voorgeskrewe toetredings-, jaar­geld en maandlikse lidmaatskap­geld ten volle betaal het.

 

7.4.3    Kategorie C-Lidmaatskap:

Katego­rie C is lede wat 11 tot 20 werknemers in diens het of hou en wat die voorgeskrewe toetredings-, jaar­geld en maandlikse lidmaatskap­geld ten volle betaal het.

 

7.4.4    Kategorie D-Lidmaatskap:

Katego­rie D is lede wat 21 tot 35 werknemers in diens het of hou en wat die voorgeskrewe toetredings-, jaar­geld en maandlikse lidmaatskap­geld ten volle betaal het.

 

7.4.5    Kategorie E-Lidmaatskap:

Katego­rie E is lede wat 36 tot 50 werknemers in diens het of hou en wat die voorgeskrewe toetredings-, jaar­geld en maandlikse lidmaatskap­geld ten volle betaal het.

 

7.4.6    Kategorie F-Lidmaatskap:

Katego­rie F is lede wat 51 tot 80 werknemers in diens het of hou en wat die voorgeskrewe toetredings-, jaar­geld en maandlikse lidmaatskap­geld ten volle betaal het.

 

7.4.7    Kategorie G-Lidmaatskap:

Kategorie G is lede wat 81 of meer werknemers in diens het of hou en wat die voorgeskrewe toetredings-, jaargeld en maandlikse lidmaatskapgeld ten volle betaal het.

 

8.                   TUG : ARTIKEL 95 (5) (c)

 

8.1               ’n Lid kan geskors, beboet of gerojeer word, soos deur Bestuurskomitee bepaal:

 

8.1.1     Indien hy/sy versuim om binne (30) dertig dae ná skriftelike aanmaning deur die sekretaris lidmaatskapgeld te betaal wat meer as (2) twee maande agterstallig is. 

8.1.2          Indien hy/sy enige van die bepalings van hierdie Grondwet oortree of optree op ’n wyse wat nadelig is vir die belange van die Organisasie: 

Met dien verstande dat daar ’n reg op appèl na die eersvolgende Algemene Jaar-vergadering teen skorsing, die oplê van ’n boete of rojering is. Kennis van sodanige appèl moet binne (10) tien dae ná die datum waarop die beslissing van die Uitvoerende Raad aan die betrokke lid meegedeel is, skriftelik aan die sekretaris gegee word. 

8.2                  Geen lid mag geskors, beboet of gerojeer word nie, tensy hy/sy die geleentheid gebied is om sy/haar saak persoonlik te stel by ’n vergadering van die Bestuurskomitee. Skriftelike kennis moet minstens (14) veertien dae vooraf van die sekretaris gekry word. Die aangeleentheid waarvan die lid aangekla word, moet in sodanige kennisgewing vervat word. 

Artikel 95 (5) (e) 

8.3                  ’n Lid wat ooreenkomstig subklousule 8.2 voor die Bestuurskomitee verskyn het, het die reg om indien hy/sy ontevrede is met die beslissing van die Bestuurskomitee en op die wyse hierin bepaal, appèl aangeteken het, sy/haar saak persoonlik te stel aan die Algemene Jaar-vergadering, wat die aangeleentheid moet oorweeg. 

8.4                  ’n Lid is daarop geregtig om getuies te roep ter ondersteuning van sy/haar saak wanneer hy/sy ’n vergadering van die Bestuurskomitee of ’n Algemene Jaarvergadering bywoon ingevolge subklousule 8.2 of subklousule 8.3 na gelang van die geval. 

8.5                  Enige beslissing van die Bestuurskomitee ingevolge hierdie klousule is, wanneer appèl aangeteken is, onderworpe aan bekragtiging, al dan nie, deur ’n Algemene Jaarvergadering. 

8.6                  By rojering van ’n lid word alle gelde deur sodanige lid aan die Organisasie verskuldig, betaalbaar. Indien betaling daarvan nie binne (14) veertien dae gedoen word nie, kan die Bestuurskomitee sodanige stappe doen as wat hy nodig ag om vereffening te bewerkstellig. 

8.7                  ’n Lid hou op om geregtig te wees op enige van die voordele van lidmaatskap indien: 

8.7.1     lidmaatskapgeld of ander gelde verskuldig aan die Organisasie meer as (2) twee

maande agterstallig is; en 

8.7.2         gedurende enige tydperk van die lid se skorsing ingevolge hierdie Grondwet. 

8.8                  Waar hierdie Grondwet ook al voorsiening maak vir die oplegging van ’n boete aan ’n lid, mag sodanige boete nie R100 (eenhonderd rand) in die geval van ’n eerste oortreding en R50 (vyftig rand) ten opsigte van elke verdere oortreding oorskry nie. 

9.         BEËINDIGING VAN LIDMAATSKAP : ARTIKEL 95 (5) (d) 

9.1        ’n Lid kan bedank deur (3) drie maande skriftelik kennis te gee aan die sekretaris, met dien verstande dat geen bedanking in werking tree voordat al die gelde aan die Organisasie verskuldig, deur die betrokke lid betaal is nie. 

9.2        ‘n Lid wie se lidmaatskapgeld meer as (2) twee maande agterstallig is, hou outomaties op om lid van die Organisasie te wees. Sodanige lid is egter aanspreeklik vir al die gelde verskuldig soos op datum waarop hy/sy opgehou het om lid van die Organisasie te wees. 

9.3               Die Bestuurskomitee is by magte om by wyse van ’n twee-derde meerderheidsbesluit van die lidmaatskap van ’n lid algeheel of gedeeltelik op te skort, indien sodanige lid nie in belang van die Organisaasie en sy lede optree nie, of versuim om op te tree ooreenkomstig die bepalings van die Grondwet van die Organisasie. 

10.               LIDMAATSKAPGELD: ARTIKEL 95 (5) (f) 

10.1             Algemeen 

10.1.1   Lede betaal ’n eenmalige toetredingsfooi en ’n maandlikse lidmaatskapgeld of ‘n bedrag soos bepaal op ’n behoorlike gekonsti­tu­eerde Algemene Jaar­verga­dering.  

10.1.2      Jaargeld is jaarliks betaalbaar vóór of op 31 Julie of sodanige ander datum as wat die Uitvoerende Raad mag bepaal. 

10.1.3      Maandlikse lidmaatskapgeld is vóór of op die laaste werksdag van elke maand betaalbaar.  

10.1.4      Lidmaatskapgeld kan direk per debietorder betaal word óf aan die sekretaris, óf sodanige ander persoon wat deur die Organisasie gemagtig is om dit te ontvang. 

10.1.5      Benewens die lidmaatskapgeld is ’n lid ook aanspreeklik vir die betaling op dieselfde wyse van sodanige ander gelde as wat voorgeskryf word ingevolge die reëls wat enige fonds instel ingevolge klousule 5 (f) van die Wet op Arbeidsverhoudinge 1995. 

10.2      Toetredingsfooi 

Die toetredingsfooi, eenmalig betaalbaar vir alle kategorieë van lidmaatskap, is naamlik R300-00 (driehonderd rand) per lid, of ’n bedrag soos bepaal op ‘n behoorlike gekonsti­tu­eerde Algemene Jaar­vergadering. 

10.3      Jaargeld 

Die jaargeld vir alle kategorieë van lidmaatskap is R300-00 (driehonderd rand) per lid, of ’n bedrag soos bepaal op ’n behoorlike gekon­sti­tu­eerde Algemene Jaarvergadering. 

10.4      Maandlikse Lidmaatskapgeld 

10.4.1   Kategorie A-lede:R200-00 (tweehonderd rand) per maand of ’n bedrag soos bepaal op ’n be­hoor­l­ike gekonsti­tu­eerde Algemene Jaarvergadering. 

10.4.2      Kategorie B-lede:

R250-00 (tweehonderd en vyftig rand) per maand of ’n bedrag soos bepaal op ’n behoorlike gekonsti­tu­eerde Alge­me­ne Jaar­ver­ga­dering. 

10.4.3      Kategorie C-lede:

R300-00 (driehonderd rand) per maand of ’n bedrag soos bepaal op ’n behoorlike gekonsti­tu­eerde Alge­me­ne Jaar­ver­ga­dering. 

10.4.4      Kategorie D-lede:

R350-00 (driehonderd en vyftig rand) per maand of ’n bedrag soos bepaal op ’n behoorlike gekonsti­tu­eerde Alge­me­ne Jaar­ver­ga­dering. 

10.4.5      Kategorie E-lede:

R400-00 (vierhonderd rand) per maand of ’n bedrag soos bepaal op ’n behoorlike gekonsti­tu­eerde Alge­me­ne Jaar­ver­ga­dering. 

10.4.6      Kategorie F-lede:

R450-00 (vierhonderd en vyftig rand) per maand of ’n bedrag soos bepaal op ’n behoorlike gekonsti­tu­eerde Alge­me­ne Jaar­ver­ga­dering. 

10.4.7      Kategorie G-lede:

Lidmaatskapgeld (wat proporsioneel gekwoteer sal word) per maand of ’n bedrag soos bepaal op ’n behoorlike gekonstitueerde Algemene Jaarvergadering. Nie minder nie as (R500-00) vyfhonderd rand en nie meer nie as (R800-00) agthonderd rand. 

11.               VERGADERINGS : ARTIKEL 95 (5) (g) & (h) 

11.1             Die Kongres van die Organisasie sal elke (3) drie jaar, nie meer as een kalenderjaar ná die voorafgaande Algemene Jaarvergadering, gehou word op ’n datum soos deur die Uitvoerende Raad besluit is. 

11.2      Die Algemene Jaarvergadering van die Uitvoerende Raad van die Organisasie sal op ’n datum val tussen 1 Oktober en 30 November van elke jaar op ’n tyd en plek soos deur die Uitvoerende Raad bepaal, behalwe vir die derde jaar waar die Kongres die Algemene Jaarvergadering vervang. 

11.3      Kennis van die Kongres/Algemene Jaarvergadering of Spesiale Algemene Vergadering soos in hierdie paragraaf beoog, sal geskied by wyse van skriftelike kennisgewing aan alle lede van die Organisasie by hulle laasbekende adres en moet gepos word minstens (21) een en twintig dae vóór datum van die beoogde vergadering. Kennisgewing van die Kongres/Algemene Jaarvergadering sal vergesel word van die Uitvoerende Raad se verslag en geouditeerde state van die Organisasie. 

11.4      By ’n Kongres/Algemene Jaarvergadering of Spesiale Algemene Vergadering sal die aanwesige lede ’n kworum vorm. Alle besluite op sodanige vergaderings uitgesonder wysigings aan die Grondwet en amalgamasie, sal geskied deur ’n gewone meerderheid van stemme. 

11.5      Indien daar staking van stemme op enige van bogenoemde vergaderings mag wees, besit die Voorsitter van sodanige vergadering ’n beslissende stem bo en behalwe sy gewone stem. Die Voorsitter sit by enige van bogenoemde vergaderings voor, of in sy afwesigheid sal die Onder- voorsiter as Voorsitter waarneem. Indien albei afwesig is, moet die vergadering uit eie geledere ’n voorsitter kies. 

11.6      ’n Spesiale Algemene Vergadering mag deur die Uitvoerende Raad belê word om enige saak van die Organisasie te behandel, en kennis van sodanige vergadering moet skriftelik aan lede gepos word (14) veertien dae vóór die beoogde vergaderdatum. As minstens (20) twintig lede ’n versoek rig tot ’n Spesiale Algemene Vergadering, met opgaaf van redes vir sodanige versoek, is die Uitvoerende Raad verplig om so ’n vergadering te belê binne (40) veertig dae vanaf ontvangs van sodanige versoek en met skriftelike kennisgewing van minstens (14) veertien dae aan alle lede. Enige kennisgewing hiervolgens gestuur, moet duidelik die aard van die sake meld wat behandel word. 

11.7      ’n Spesiale Algemene Vergadering behandel uitsluitlik sake waarvoor dit byeengeroep is. 

11.8           Indien daar tussen vergaderings van die Uitvoerende Raad enige vraag ontstaan wat uiters dringend is en deur ’n eenvoudige “ja” of “nee” beantwoord kan word, kan die Voorsitter posstemming deur die lede van die Organisasie of van die Uitvoerende Raad magtig en moet hy/sy handel ooreenkomstig die besluit geneem deur die lede wat gestem het.

 

11.9           Op elke Algemene Jaarvergadering moet die notule van die jongste voorafgaande vergadering deur die sekretaris gelees word en, ná goedkeuring, deur die voorsittende beampte onderteken word.

 

11.10        Die verrigtinge van enige vergadering word nie ongeldig gemaak deur die nie-ontvangs deur enige lid van die kennisgewing van die vergadering nie.

 

11.11        Die sekretaris van die Organisasie of ’n persoon deur hom/haar aangestel, moet notules van al die vergaderings van die Uitvoerende Raad en van al die ander vergaderings van die Organisasie hou.

 

12.               WYSIGING VAN DIE GRONDWET ARTIKEL 95 (5) (v) 

12.1           In geval dit nodig sou word om hierdie Grondwet te wysig of aan te vul, sal dit geskied deur ’n twee-derde meerderheid van stemme en stemgeregtigde lede op ’n Algemene Jaarvergadering of Spesiale Algemene Vergadering. Indien ’n wysiging of aanvulling plaasvind op ‘n Algemene Jaarvergadering of Spesiale Algemene Vergadering van die Organisasie, sal die beoogde wysiging of aanvulling duidelik uiteengesit word in die kennisgewing waarkragtens daardie vergadering belê word. Indien dit op ’n Spesiale Algemene Vergadering plaasvind, moet sodanige vergadering belê word spesifiek vir die doel om die Grondwet te wysig of aan te vul. Sodanige vergadering moet voldoen aan die vereistes van Artikel 11.6 van hierdie Grondwet. 

12.2      Geen verwyderings of toevoegings is van krag voordat dit ingevolge Artikel 101 (3) van die Wet op Arbeidsverhoudinge, 1995, gesertifiseer is nie.
 

13.       BESTUUR VAN DIE ORGANISASIE : ARTIKEL 95 (5) (k) 

13.1      Die bestuur van die Organisasie berus by die volgende Komitees: 

13.1.1   Die hoogste uitvoerende gesag wat bestaan uit die Kongres van die Organisasie. 

13.1.2   Die Bestuurskomitee bestaande uit die Voorsitter, Ondervoorsitter, die Algemene Sekretaris en (4) vier verkose lede wat op ’n Algemene Jaarvergadering tot die Be­stuurs­komitee verkies word. 

13.1.3      Die Uitvoerende Raad wat bestaan uit die Bestuurskomitee-lede en die genomineerde voorsitters van die onderskeie takke van die Organisasie. Die Uitvoerende Raad stel die Organisasie se Algemene Sekretaris aan. 

13.2      Dienende lede van die Bestuurskomitee word driejaarliks outomaties geno­mi­neer vir dieselfde posisies waarin hulle gedien het, indien hulle her­ver­kiesbaar is. Addisionele nominasies mag vir enige posisie op die Bestuurskomitee voorgelê word. Addisionele nominasies moet skriftelik gedoen word en moet skriftelik gesekondeer word en vergesel word van die skriftelike toestemming van die genomineerde lid tot sy nomi­nasie vir ’n posisie op die Bestuurskomitee. Addisionele nominasies moet die Sekretaris van die Organisasie nie minder nie as (21) een en twintig dae vóór die Algemene Jaarvergadering bereik. Die genomineerde, nomineer­der en sekondant moet opbetaalde lede van die Organisasie wees. 

13.3      Die Uitvoerende Komitee mag na goeddunke, wanneer omstandighede dit in die belang van die Organisasie vereis, bykomende stemgeregtigde lede van die Organisasie koöpteer om op die Bestuurskomitee en of die Uitvoerende Raad te dien of om enige getal stemgeregtigde lede van die Organisasie te koöpteer om in een of meer subkomitees onder beheer van die Bestuurskomitee te dien. So ’n subkomitee sal direk aan die Bestuurs­komitee verslag doen en moet onder die voorsitterskap van ’n lid van die Bestuurskomitee sy werksaamhede verrig. Die opdragte aan en die werksafbakening van so ’n subkomitee sal deur die Bestuurs­komi­tee bepaal word. 

13.4      By ’n Bestuurskomitee- en/of Uitvoerende Raadsvergadering sal ’n kworum bestaan uit die helfte plus een lid van die totale aantal komi­tee/raads­lede wat op daardie stadium op sodanige komitee/ raad dien. Indien die Voorsitter of Ondervoorsitter nie by sodanige vergadering teenwoordig is nie, kies die teenwoordige lede uit hul geledere ’n voorsitter. Alle be­sluite van sodanige komitee/raad sal by wyse van ’n meerderheidstem ge­neem word. Indien daar ’n staking van stemme is, sal die Voorsitter van daardie vergadering ’n beslissende stem bo en behalwe sy gewone stem hê. 

13.5      ’n Lid van die Bestuurskomitee wat sonder verskoning of ’n grondige rede van (2) twee agtereen-volgende vergaderings van die Bestuurs­komi­tee afwesig is, mag in die uitsluitlike diskresie van die Bestuurs­komitee gevra word om as lid van die Bestuurskomitee te bedank. ’n Lid van die Bestuurs-komitee wat volgens die meerderheidstem van die Uitvoe­rende Raad nie bekwaam is om sy pos te beklee nie, of wat weer­eens om ’n ander rede nie sy pligte na behore nakom nie, kan in die uit­sluit­like diskresie van die Uitvoerende Raad gevra word om uit die Bestuurskomitee te bedank. Indien so ’n lid, nadat hy aldus versoek is, versuim om te bedank, kan die Uitvoerende Raad sy lidmaatskap as Bestuurskomiteelid summier beëindig en moet die vakante posisie bin­ne (30) dertig dae vanuit die stemgeregtigde lede van die Organisasie deur die Uit­voerende Raad gevul word vir die oorblywende termyn voor die volgende Algemene Jaarvergadering by welke geleentheid ’n verkie­sing van ’n Bestuurskomiteelid in die posisie moet plaasvind. 

13.6      In geval van die tydelike ontheffing van pligte van ’n lid van die Bestuurs­ko­mi­tee, moet sy posisie binne (30) dertig dae deur die Uitvoerende Raad uit die geledere van die stemgeregtigde lede van die Organisasie gevul word vir so­lank as wat daardie lid onthef is van sy pligte, of totdat ’n verkiesing ty­dens die volgende Algemene Jaarvergadering vir daardie posisie ge­hou kan word. 

14.       AMPSDRAERS EN BEAMPTES 

Die ampsdraers en beamptes en hulle pligte is soos volg: 

14.1            Voorsitter: 

Die Voorsitter sit voor by alle vergaderings waar hy/sy teenwoordig is, dwing nakoming van die Grondwet af, onderteken notules van vergaderings ná goedkeuring, endosseer alle rekeninge vir betalings ná goedkeuring deur die Uitvoerende Raad en oefen oor die algemene toesig uit oor sake van die Organisasie en verrig sodanige ander pligte as wat deur gebruik en gewoonte van toepassing is op die amp. Hy/sy het nie ’n beraadslagende stem nie, maar het, in die geval van ’n staking van stemme, ’n beslissende stem. 

14.2            Ondervoorsitter: 

                               Die Ondervoorsitter oefen die bevoegdhede van die Voorsitter uit en verrig die pligte van die Voorsitter in die afwesigheid van laasgenoemde. 

14.3            Sekretaris: 

14.3.1   Die sekretaris is in beheer van die totale administrasie en uitvoering van beleid en moet behoorlik rekeningboeke hou in sodanige vorm as wat die Uitvoerende Raad voorskryf; skriftelike aanvrae om vergaderings ontvang; kennisgewings van vergaderings uitstuur; alle korrespondensie behartig; die oorspronklike briewe wat ontvang word, asook afskrifte van briewe wat versend word, hou, en op elke vergadering van die Uitvoerende Raad verslag doen oor die korrespondensie wat plaasgevind het sedert die vorige vergadering; alle vergaderings van die Uitvoerende Raad en alle Algemene Jaarvergaderings bywoon en notule van die verrigtinge hou; ’n lederegister hou en daarin onder andere elke lid se adres, datum van inskrywing, lidmaatskapgeld en enige heffings en boetes deur sodanige lede betaal, aanteken, en in die geval van bedanking of rojering van ’n lid, die datum daarvan; lidmaatskapgeld, boetes en heffings vorder, amptelike kwitansies uitreik vir alle gelde ontvang, alle gelde binne (3) drie dae ná ontvangs deponeer; verslae oor die finansiële posisie van die Organisasie aan die Uitvoerende Raad voorlê; minstens een maal elke drie maande die balansstaat en staat van inkomste en uitgawes opstel; die Organisasie of sy lede in die Raad verteenwoordig; en sodanige ander pligte verrig as wat die Uitvoerende Raad of ’n Algemene Jaarvergadering gelas. 

14.3.2.    Die sekretaris kan bedank deur (30) dertig dae skriftelik kennis aan die Uitvoerende Raad te gee en sy/haar dienste kan deur die Raad beëindig word ná ’n gelyke kennisgewingtydperk. Die sekretaris se dienskontrak moet skriftelik wees. 

14.3.3   Die sekretraris moet ook voldoen aan Artikel 98, 99 en 100 van die Wet op Arbeids-verhoudinge 1995.           

14.4            Assistent-Sekretaris: 

            Die Uitvoerende Raad kan ’n assistent-sekretaris aanstel wat die sekretaris moet help in die afhandeling van sy/haar pligte. Bepalings van paragraaf 14.3.1 is mutatis mutandis van     toepassing. 

14.5            Organiseerders: 

            Die Uitvoerende Raad kan ’n organiseerder(s) aanstel. Die organiseerder(s) se hoofpligte is om lede in te skryf; lede se klagtes te ondersoek; die Organisasie of sy lede in die Raad te verteenwoordig; lidmaatskapgeld in te vorder en sodanige ander pligte te verrig as wat die Uitvoerende Raad gelas. Die bepalings van paragraaf 14.3.1 is mutantis mutandis van toepassing. 

15.       AMPSONTHEFFING VAN AMPSDRAERS EN BEAMPTES : ARTIKEL 95 (5) (m) 

15.1      ’n Ampsdraer of beampte kan van sy/haar amp onthef word indien hy/sy: 

15.1.1   enige van die bepalings van hierdie Grondwet oortree; 

15.1.2      op ’n wyse optree wat skadelik is vir die belange van die Organisasie. 

15.2      Geen ampsdraer of beampte kan van sy/haar amp onthef word tensy hy/sy ’n geleentheid gegun is om sy/haar saak persoonlik op ’n vergadering van die Uitvoerende Raad te stel. 

Artikel 95 (5) (n) 

15.3      ’n Ampsdraer of beampte wat voor die Uitvoerende Raad verskyn het en wat ontevrede is met die beslissing van die Raad, het die reg om te appelleer na die eersvolgende Algemene Jaarvergadering van die Organisasie. Kennis van appèl moet binne (7) sewe dae ná die datum waarop die beslissing van die Uitvoerende Raad aan die betrokke persoon oorgedra is, skriftelik aan die sekretaris gegee word. Die Algemene Jaarvergadering kan die beslissing van die Uitvoerende Raad goedkeur of ter syde stel en die beslissing van die Algemene Jaarvergadering is finaal. 

16.       VERTEENWOORDIGING IN BEDINGINGS – EN STATUTÊRE RADE 

16.1      ’n Algemene Jaarvergadering kan te eniger tyd besluit dat die Organisasie ’n party moet word wat by ’n bedingings- of statutêre raad kan inskakel ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge, 1995. 

16.2      Kandidate as verteenwoordigers en plaasvervangers in enige sodanige Raad kan benoem word op die Vergadering en die verkiesing moet per stembrief plaasvind. 

16.3            Verteenwoordigers in ’n statutêre- of bedingingsraad kan van hulle amp onthef word deur ’n Algemene Jaarvergadering en kan bedank deur (3) drie maande kennis te gee aan die Uitvoerende Raad of sodanige kennis as wat voorgeskryf word in die Grondwet van die betrokke Raad. 

16.4      In die geval van die bedanking of dood van ‘n verteenwoordiger of van sy/haar ampsontheffing deur ’n Algemene Jaarvergadering, moet die vakature gevul word deur die Uitvoerende Raad hangende die volgende Algemene Jaarvergadering. 

16.4            Verteenwoordigers het volle bevoegdheid om ooreenkomste aan te gaan namens die Organisasie en sulke ooreenkomste is nie onderworpe aan bekragtiging deur die Uitvoerende Raad of ’n Algemene Jaarvergadering nie. 

17.       STEMMINGS PER STEMBRIEF ARTIKEL 95 (5) (o) 

17.1           Benewens die gevalle ten opsigte van die hou van ’n stemming per stembrief van die lede vir die hele Organisasie wat verpligtend is ingevolge hierdie Grondwet, moet ’n stemming per stembrief oor enige vraag gehou word indien die Uitvoerende Raad aldus besluit, en ’n stemming per stembrief moet ook gehou word:- 

            17.1.1   indien skriftelik aangevra deur minstens (50) vyftig lede van die Organisasie; en 

17.1.2      oor enige voorstel om ’n uitsluiting uit te roep. 

17.2      Stemmings per stembrief moet op die volgende wyse gehou word:- 

17.2.1      Kennis van ’n stemming per stembrief moet skriftelik deur die sekretaris aan elke lid van die Organisasie gegee word minstens (3) drie dae vóór die stemming per stembrief gehou word: met dien verstande dat ’n stemming per stembrief sonder kennisgewing op ‘n enige Algemene Jaarvergadering gehou kan word by besluit van ’n meerderheid van lede teenwoordig. 

17.2.2      Twee natellers moet deur die Uitvoerende Raad of ’n Algemene Jaarvergadering aangestel word om oor enige stemming per stembrief toesig te hou en om die uitslag daarvan vas te stel. 

17.2.3   Behalwe in die geval van posstemmings en stemming per stembrief gehou op Algemene Jaarvergaderings by besluit van die meerderheid van lede teenwoordig, moet stemmings per stembrief gehou word op sodanige plekke as wat genoem word in die kennisgewings bedoel in paragraaf 17.2.1 op datum gedurende ure vermeld in genoemde kennisgewing. 

17.2.4      Stembriewe word deur die sekretaris voorsien. Die aangeleentheid waaroor gestem word, moet duidelik uiteengesit word op die stembriewe en mag geen inligting bevat waardeur die stemgeregtigde moontlik geïdentifiseer kan word nie. 

17.2.5      Stembusse moet ondersoek word deur die natellers en in hulle teenwoordigheid deur die sekretaris verseël word voor die uitreiking van stembriewe. 

17.2.6      Slegs een stembrief word op aanvraag uitgereik aan elke lid wat stemgeregtig is, op die plek en gedurende die ure vasgestel vir die hou van die stemming per stembrief. 

17.2.7      Elke stemgeregtigde word in die teenwoordigheid van die natellers voorsien van een stembrief, wat hy/sy daarna invul, vou en in die stembus plaas wat vir die doel voorsien is. 

17.2.8      Stembriewe mag nie onderteken of op enige wyse gemerk word nie buiten die vereiste merk gemaak deur die lid by die uitbring van sy/haar stem. Stembriewe wat enige ander merk bevat, word as bedorwe beskou en word nie getel nie. 

17.2.9      By afhandeling van ’n stemming per stembrief of so gou as doenlik daarna, moet die uitslag daarvan in die teenwoordigheid van die sekretaris deur die natellers bepaal word en aan die Uitvoerende Raad bekend gemaak word. 

17.2.10   Stembriewe, insluitende bedorwe stembriewe, moet nadat dit getel is, in ’n houer geplaas word wat verseël moet word en deur die sekretaris gehou word vir minstens (3) drie jaar. 

17.3      Die Uitvoerende Raad kan besluit dat ’n posstemming onder lede gehou moet word, in welke geval die stemming per stembrief op die volgende wyse moet geskied:- 

17.3.1      Die sekretaris moet per geregistreerde pos aan elke lid van die Organisasie ’n stembrief en gefrankeerde koevert wat “Stemming” gemerk is, stuur. Die stembrief moet ná invulling in die koevert vir die doel voorsien, geplaas, verseël en gepos word sodat dit die sekretaris bereik binne (14) veertien dae vanaf die datum waarop dit van die hoofkantoor na sodanige lid versend is. By ontvangs van sodanige koevert moet die sekretaris dit onverwyld in ’n verseëlde stembus plaas. 

17.3.2      Twee natellers moet deur die Uitvoerende Raad aangestel word om die uitslag van die stemming per stembrief te bepaal. Die stembus moet oopgemaak word en die stembriewe deur die natellers getel word in die teenwoordigheid van die sekretaris, wat die Uitvoerende Raad onverwyld van die uitslag in kennis moet stel.  

17.3.3      Dieselfde prosedure is mutatis mutandis van toepassing op ’n posstemming wat tot lede van die Uitvoerende Raad van die Organisasie beperk is. 

17.3.4      In enige stemming per stembrief gehou in verband met enige verkiesing, word die kandidate, tot op die vereiste getal, wat die grootste aantal stemme ontvang het, verkose verklaar. 

17.3.5      Die Uitvoerende Raad is gebind om stappe te doen ooreenkomstig die beslissing van ’n meerderheid van die lede wat in ’n stemming per stembrief stem. 

Artikel 95 (5) (p) 

17.4      Die Organisasie moet alvorens ’n uitsluiting uitgeroep word, ’n stemming per stembrief hou onder die lede ten opsigte van wie hy voornemens is om die uitsluiting uit te roep. 

Artikel 95 (5) (q) 

17.5      Ondanks enige ander bindende bepalings van hierdie Grondwet mag lede van die Oganisasie nie gedissiplineer word of hulle lidmaatskap nie beëindig word weens versuim of weiering om aan ’n uitsluiting deel te neem nie, indien:- 

            17.5.1   geen stemming per stembrief oor die uitsluiting gehou is nie; of 

17.5.2   ’n stemming per stembrief wel gehou is, waar die meerderheid van die lede wat gestem het, nie ten guste van die uitsluiting gestem het nie. 

18.       FINANSIES 

Artikel 95 (5) (r) 

18.1           Alle bedrae verskuldig aan of ingesamel ten behoewe van die Organisasie moet binne (3) drie dae ná ontvangs daarvan deur die sekretaris gedeponeer word by sodanige bank as waarop die Uitvoerende Raad besluit. 

Artikel 95 (5) (s) 

18.2      Die fondse van die Organisasie moet aangewend word vir die bestryding van uitgawes, vir die aankope van eiendom, ter bereiking van die oogmerke genoem en vir sodanige ander wettige doeleindes as waarop besluit is deur die Uitvoerende Raad of deur lede wat per stembrief gestem het ter bereiking van bedoelde oogmerke. 

18.3           Betalings vereis die voorafgoedkeuring van die Uitvoerende Raad en word gedoen per tjek wat onderteken is deur die voorsitter en die sekretaris, behalwe wanneer die betrokke bedrag minder as R500-00 (vyfhonderd rand) is, as betaling gedoen kan word uit die kleinkas. In die afwesigheid van die voorsitter of sekretaris moet tjeks namens hom/haar deur ’n lid van die Uitvoerende Raad wat die komitee vir daardie doel aangestel het, uitgereik word.            

18.4           ’n Lid wat bedank of gerojeer word, het geen aanspraak op die fondse van die Organisasie vanaf die datum waarop die bedanking of rojering plaasvind nie. 

18.5           State van inkomste en uitgawes en die finansiële posisie van die Organisasie moet kwartaalliks deur die sekretaris opgestel en aan die Uitvoerende Raad voorgelê word. 

Artikel 95 (5) (u)           

18.6      Ooreenkomstig die bepalings van die Wet op Arbeidsverhoudinge 1995, moet die sekretaris ’n staat van inkomste en uitgawes en ’n balansstaat opstel ten opsigte van elke boekjaar eindigende op Februarie van elke jaar. Sodanige state en balansstate moet geoudit word en die sekretaris moet die registrateur binne (30) dertig dae ná ontvangs daarvan voorsien van ’n gewaarmerkte afskrif van die ouditeursverslag en die finansiële state. 

Artikel 95 (5) (r) 

18.7      Die Uitvoerende Raad het, behoudens die leiding van die vergadering, die bevoegdheid om surplusgelde op so ’n wyse te belê dat die Organisasie by sulke beleggings baat vind. 

19.       LIKWIDASIE 

Artikel 95 (5) (w) 

19.1            Die Organisasie word gelikwideer indien, in ’n stemming per stembrief gehou op die wyse voorgeskryf in die Grondwet, minstens twee-derdes van die meerderheid van die aanwesige stemgeregtigde lede op ’n Algemene Jaarvergadering, of op ’n Spesiale Vergadering wat vir die doel belê is, gestem het ten gunste van ’n resolusie dat die Organisasie gelikwideer word. 

19.2            Indien ’n resolusie vir die likwidasie van die Organisasie aangeneem is of indien die Organisasie om enige rede nie kan voortgaan om te funksioneer nie, is die volgende bepalings van toepassing: 

19.2.1      Die Voorsitter van die Organisasie wat laaste aangestel is, of indien hy/sy nie beskikbaar is nie, die beskikbare lede van die Uitvoerende Raad wat die laaste aangestel is, moet onverwyld aan die Arbeidshof ’n verklaring deurstuur wat deur hom/haar/hulle onderteken is en die resolusie aangegaan of die redes vir die Organisasie se onvermoë om voort te gaan om te funksioneer, na gelang van die geval, uiteensit en die Arbeidshof versoek om ’n bevel toe te staan ingevolge Artikel 103 van die Wet op Arbeidsverhoudinge 1995. 

19.2.2.  Die likwidateur aangestel deur die Arbeidshof moet die ampsdraer van die Organisasie wat laaste aangestel is, oproep om aan hom/haar die Organisasie se rekeningsboeke te lewer wat die bates en laste toon, tesame met die lederegister wat, vir die (12) twaalf maande voor die datum waarop die resolusie vir likwidasie aangeneem is of voor die datum met ingang waarvan die Organisasie nie kan voortgaan om te funksioneer nie, na gelang van die geval (hierna die ontbinding genoem), die lidmaatskapgeld betaal deur elke lid en sy/haar adres soos op genoemde datum. 

19.2.2      Die likwidateur moet genoemde ampsdraers oproep om aan hom/haar alle onbestede fondse van die Organisasie te oorhandig en om aan hom/haar die Organisasie se bates en dokumente wat nodig is om die bates te likwideer, te lewer. 

19.3      Die likwidateur moet die nodige stappe om die skuld van die Organisasie te likwideer uit sy onbestede fondse en enige ander gelde wat gerealiseer het uit enige bate van die Organisasie, en indien genoemde fondse en geld onvoldoende is om alle krediteure te betaal nadat die likwidateursgelde en die koste van likwidasie betaal is, is die volgende waarin krediteure betaal word, dieselfde as wat voorgeskryf word in enige wet wat dan van krag is, betreffende die verdeling van die bates van ’n insolvente boedel, en die likwidateursgelde en die koste van likwidasie staan in rangorde asof dit die koste van sekwestrasie van ’n insolvente boedel was. 

19.4      Ná die betaling van alle skulde soos in 19.3 genoem, word die oorblywende fondse, indien enige, verdeel tussen die oorblywende lede van die Organisasie op grond van lidmaatskapgeld werklik betaal gedurende die (12) twaalf maande vóór die datum van ontbinding. 

19.5           Ná die betaling van alle laste moet enige bates waaroor nie ooreenkomstig die bepalings van hierdie klousule beskik kan word nie, deur die likwidateur te gelde gemaak word en moet die opbrengs aan die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie oorbetaal word ooreenkomstig Artikel 103 (5) van die Wet op Arbeidsverhoudinge 1995. 

19.6           Die aanspreeklikheid van die lede is vir doeleindes van hierdie klousule beperk tot die bedrag lidmaatskapgeld deur hulle aan die Organisasie verskuldig ingevolge hierdie Grondwet soos op datum van ontbinding. 

20.       AANSPREEKLIKHEID VAN DIE UITVOERENDE RAAD 

20.1            Die ampsdraers, lede van die Uitvoerende Raad en sodanige subkomitees soos wat daar mag wees, is deur die Organisasie gevrywaar teen alle onkoste, verliese, uitgawes en verpligtinge waarvoor hulle aanspreeklikheid mag opdoen as gevolg van hulle optrede namens en ten behoewe van die Organisasie. Die Organisasie is verplig om sodanige onkoste, verliese, uitgawes en verpligtinge te betaal uit die fondse van die Organisasie, mits sodanige eis binne (30) dertig dae ná afloop van die gebeurtenis ingedien word, by gebreke waarvan so ’n lid sy eis sal verbeur. 

21.       TEKENMAGTE 

21.1           Alle Prokurasies ter instelling of verdediging van enige regsgeding, of vir die registrasie van enige oordrag van vaste eiendom of verder alle ooreenkomste, kontrakte, verhandelbare dokumente, en ander dokumente of stukke moet, tensy die mag gedelegeer is aan ’n ander persoon of tensy dit anders besluit word op ’n Algemene Jaarvergadering, deur die Algemene Sekretaris of Tesourier en die Voositter of Ondervoorsitter geteken word. 

22.       AMALGAMASIE 

22.1            Die Organisasie kan in die volgende omstandighede met ander soortgelyke organisasies/federasies amalgameer. 

          22.1.1   tydens ’n meerderheidsbesluit geneem op ’n Kongres of 

22.1.2   tydens ’n meerderheidsbesluit geneem op ’n Spesiale Algemene Vergadering wat vir hierdie doel belê is. 

23.               HOOFKWARTIER 

Die Hoofkwartier van die Organisasie is in Lyttelton of op sodanige plek as wat die Bestuurskomitee besluit. 

24.       POLITIEKE BASIS 

            Die Organisasie funksioneer op ’n nie-politieke grondslag. 

25.       VASTE EIENDOM 

            Alle vaste eiendom en registreerbare regte in vaste eindom deur die Organisasie verkry, sal in die naam van die Organisasie geregistreer word. 

Gesertifiseer as die korrekte weergawe van die Grondwet van die TABOK Werkgewersorganisasie:

 

 

DATUM _______________                                            PLEK: ____________________

 

 

 

__________________________                         __________________________

JJJ BAKKER                                                               IL SMUTS

Voorsitter                                                                    Uitvoerende Sekretaris

Terug boontoe

Medewerkers

AGV


Klopnet


TABOK

 

 

Webmeester