TUISBLAD

DIENSTE &
VOORDELE

TABOK IN BEDRYF

GRONDWET

HULPMIDDELS

NAVORSING

LITIGASIE

WETGEWING

AANSOEK

KONTAK ONS

SKAKELS

 

 

 Finale Verslag  

 Afrikaansmedium onderrig op skool en van  die menings van ouers in alle gemeenskappe oor die huidige stand van skoolonderwys

Prof. Hermann Giliomee

Chris Heese

Lawrence Schlemmer

Die finansiële ondersteuning van die volgende word met dank erken:

Het Jan Marais Nationale Fonds

Naspers

Dagbreek Trust

Stellenbosch

24 Januarie 2005

Strategiese Opsomming vir Top Bestuur 

Hierdie  verslag berus op die volgende verslae wat aangeheg word 

·        Strategiese voorstelle vir langtermyn oplossings vir die Afrikaanstalige onderwys (Hermann Giliomee, Chris Heese en Lawrence Schlemmer) 

  • `n Opname oor die menings van ouers oor wendinge in die  onderwys  (Lawrence Schlemmer en Hermann Giliomee)

·        `n Verslag van die referate wat gelewer is by `n spesiale kongres oor die onderwys, georganiseer deur die opstellers van hierdie verslag. Dit is gehou op die UWK-kampus op 4-5 Junie 2004.  Dit lę klem op die swak en sterk punte van sowel die ou as die nuwe onderwysstelsel met spesiale verwysing na die behoefte aan verdere hervorming (D. C. F. Heese) 

BEVINDINGS 

·        Onderwys in Suid-Afrika is in `n krisis: Suid-Afrika het laaste gekom van die 46 lande wat leerders in graad 8 ingeskryf het om die toetse in wetenskap en wiskunde af te lę.  Daar word tans nie meer suksesvolle swart kandidate (ongeveer 4 600) in Wiskunde Hoër Graad gelewer as in 1992 nie. Universiteite in Suid-Afrika wil vanaf 2009 ‘n eie  toelatingseksamen bedryf voor hulle aan studente plekke gee 

  • Leerders in  die moedertaal vaar aansienlik beter as diegene wat in `n tweede taal studeer. Ook in wiskunde en wetenskap.

·        Daar is `n dreigende tekort aan Afrikaanse leerkragte, veral in wiskunde en wetenskap en buite die Wes-Kaap  

  • Wetgewing word beoog wat beheerrade se magte drasties sal inkort. Meer welgestelde ouers mag in aansienlike getalle besluit om eerder hul kinders na Engelstalige privaatskole te stuur.

  • Die regering wil hę dat skole en universiteit toegang (lees: toegang in Engels) moet verleen. Geen aanvullende fondse word op universiteitsvlak hiervoor beskikbaar gestel nie. In feite hef die regerings in sulke gevalle `n taal-“taks” op Afrikaans

  • Ongeveer 60 persent wit Afrikaanse kinders woon enkelmedium Afrikaanse skole by; `n kwart is in parallelmedium staatskole; 14 persent is in Engelsmedium staat-en privaatskole.

  • Terwyl daar Afrikaanse onderwysers is wat in staat is om Afrikaans as taal, die kultuur en dissipline te handhaaf –en dit is klaarblyklik tans nog die geval--  is daar nog  nie besondere kommer onder ouers oor die kwyning van moedertaal onderrig.

  •  Baie ouers is nie bewus van die opvoedkundige waarde van moedertaal onderrig nie en is ook geneig om die invoer van Engelsmedium klasse in `n Afrikaanse skool as ‘n aanwins eerder as ‘n bedreiging te sien.

  • Abstrak beskou 80% van die wit Afrikaanse ouers (teenoor 73% van bruin ouers) as belangrik. Van die Afrikaners kies 57% moedertaalonderrig omdat dit `n bepaalde kultuurerfenis en etnisiteit oordra en `n verdere 30% omdat dit `n opvoedkundige voordeel meebring (In die geval van bruinmense is die proporsies  44 persent en 30%.)

  • `n Derde van die wit Afrikaanse ouers sal nie beswaar hę as Engels in `n opvoedkundige instelling ingevoer word teenoor twee-derdes wat dit teenstaan.

  • Baie min wit of bruin Afrikaanse ouers is bereid om vir moedertaalonderrig te betaal indien hulle dit nie ontvang nie. Ongeveer 60% van die Afrikanerouers beoog sterk optrede as hul kinders dit nie ontvang nie.  

  • Indien dit egter sou gebeur dat `n opvoedkundige instelling “getransformeer” word en dat  saam daarmee Afrikaans gemarginaliseer word, sal daar ‘n groot styging van die vlakke van kommer en ontevredenheid plaasvind, soortgelyk as dié wat ons tans onder Indiër-ouers sien.  Van die Afrikaners voel 58% vir “sterk optrede” as so iets gebeur. 

  • Die volgende persentasies van ouers voel of ontevrede met die huidige onderwys, of pessimisties oor die rigting wat onderwys inslaan: Wit Afrikaans:79% Wit Engels:70% Indiërs:78% Daarteenoor is die getalle vir bruin ouers 41%  en swart ouers 31%. Vir die alle groepe is dit  41% . Die grootste tevredenheid is by gevalle waar die skakeling tussen die ouers en die skool die swakste is en waar ouers nie hoë verwagtinge het nie.

  • Oor die algemeen is die ouers baie ontevrede met Uitkomsgebaseerde Onderwys en die veranderings in leerplanne en regulasies. Wit Afrikaanse ouers spesifiek is sterk ontevrede oor  swak dissipline, dalende standaarde, bemoeiing deur regering met skole, godsdiensbeleid en en rassespanning op skool.

  

AANBEVELINGS

Daar word aanbeveel dat 

1  `n Sekretariaat van afgetrede onderwysbeplanners en regsgeleerders moet dringend in die lewe geroep word om 

  • die behoefte van Afrikaanse onderwysers in skaars vakke te bepaal

  • modelle te ontwikkel om, waar parallel-medium `n voldonge feit is, `n taalbeleid te volg wat `n verrykende taalmilieu tot gevolg het

  • `n  geko-ordineerde poging van stapel te stuur om die bestaande en verwagte gebrek aan onderwysers vir hoër graad wiskunde, wetenskap en tale na te vors en aansporings  te ontwikkel vir leerlingonderwysers in die vakke

  • konsep onderwyswetgewing en onderwyspraktyke noukeurig na te vors om  vroegtydig te waarsku teen wetsontwerpe en regulasies wat  inbreuk maak word op bestuursoutonomie, en aanbevelings te doen vir geregtelike optrede voorlopig te beplan vir die stigting van privaatskole indien die beplande onderwyswetgewing die outonomie van beheerrade vernietig

2        Daar word gevoel dat vertoë tot die Minister van Onderwys waarskynlik min vrugte sal oplewer en nie die fundamentele krisis van Afrikaanstalige instellings sal oplos nie. 

3        Die wesenlike aangeleenthede en probleme in Afrikaanse onderwys moet op ’n vlak van die beginsels van ’n demokratiese orde gedryf word, en in besonder moet die onderwysprobleme deel uitmaak van ’n aksie rondom minderheids-en-kultuurregte in ’n multi-kulturele bevolking.  As sodanig moet die aksie op die hele regering gerig word met die President en sy kantoor as kanaal. Die universiteite met historiese en/of huidige bande met Afrikaans-medium onderrig sal die aksie moet dryf 

4        Daar kan nooit spesiale voorregte vir die Afrikaantalige gemeenskap gevra word nie, en die Afrikaanstalige “entrepreneurs” moet bereid wees om, as hulle gevra word, ook alle ander minderheidsgemeenskappe met besondere taalbehoeftes met raad en daad by te staan.

 

FINALE VERSLAG

  

STRATEGIESE VOORSTELLE VIR LANGTERMYN OPLOSSINGS VIR DIE AFRIKAANSTALIGE ONDERWYS 

(Hermann Giliomee, Lawrence Schlemmer en Chris Heese ) 

1 Die krisis beskryf 

Onderwys in Suid-Afrika is in krisis. Een van die mees opsigtelike merkers wat die verval in die gehalte van onderwys illustreer, is die aankondiging van die vise-kanseliers van universiteite dat hulle vanaf 2009 ‘n eie toelatingseksamen gaan bedryf. 

Daar is `n legio internasionale toetsinstrumente wat aandui dat Suid-Afrikaanse leerders se prestasie vis a vis hulle eweknieë in ander lande vinnig agteruitgaan.  Veral in Wiskunde en Wetenskap is die resultate rampspoedig. Dit blyk uit die resultate van die Trends in International Mathematics and Science Study (TIMSS) van 2003. Suid-Afrika het laaste gekom van die 46 lande wat leerders in graad 8 ingeskryf het om die toets af te lę. Singapoer, die wen-land, se syfer was drie keer beter as dié van Suid-Afrika.[1]          

 Die interne toetsing dui aan dat ‘n al groter wordende persentasie afstuderendes funksioneel ongeletterd is. Die kwessie van voertaal bly die kern van die probleem, veral in die skole van die voormalige Dept. van Onderwys en Opleiding. Die  owerheid skryf die swak uitslae toe aan hul swak beheer van Engels, wat na graad 3 as voertaal gebruik word, en wend op groot skaal hulpbronne aan om die beheer te verbeter. 

Die regering weier nog om te aanvaar dat die eintlike oplossing lę om die leerders in hul moedertaal te laat leer en alle eksamens tot by Matriek in hul moedertaal te skryf, (Verlede jaar het geen kind die Matriek-eksamen in `n ander taal as Engels of Afrikaans afgelę nie.) Kenners soos dr. Neville Alexander het al herhaalde kere aangetoon dat Suid-Afrika dit nie kan bekostig om langer te weier om die roete van moedertaal onderwys te gebruik nie. `n Pansat-opname getoon dat slegs 12 persent van die swart ouers ten gunste daarvan is dat slegs Engels as voertaal gebruik word. 

Huw Davies van die SAOU en twee akademici, Kathleen Heugh en Zubeida Desai, het op die konferensie by UWK op 4 en 5 Junie referate gelewer wat oorvloedige bewyse bevat het om die stelling te staaf dat die onoordeelkundige gebruik van Engels as voertaal in die meeste skole van die land die vernaamste rede is vir Suid-Afrika se relatief swak vertoning op die gebied van onderwys  

 In baie opsigte is die prestasie van leerders Afrikaanse moedertaal-leerders aansienlik beter.  In die TIMSS toetse waarna hierbo verwys word, het Afrikaanse kandidate 370 vir wiskunde behaal en 253 vir leerders van Suid-Afrika wat in Engels geskryf het (Engels is nie die moedertaal van die meeste kandidate wat in Engels geskryf het nie.). Daarteenoor is die syfer 605 vir leerders van Singapoer 

In  die Matriek-eksamen in Suid-Afrika vertoon die Afrikaanse leerders goed in die merietelyste.  In 2004 was 17 van die 20 top matrikulante in die Wes-Kaap Afrikaanssprekend. 

 Tog is dit ou Model-C, Afrikaans-medium skole en die Historiese Afrikaanse Universiteite  wat tans onder die meeste druk van die regering verkeer.  In verskeie provinsies plaas amptenare  “all single medium schools” (lees: Afrikaansmediumskole) druk toe om dubbel- of parallelmedium ingestel te kry. Regter Albie Sachs het onlangs gesę dat die Grondwet enkelmedium-onderrig toelaat waar prakties moontlik, maar dat niks  in die Grondwet spesifiseer dat die staat daarvoor moet betaal nie. 

Die regering wil hę dat elke universiteit, ook die Universiteit van Stellenbosch, toegang (lees: toegang in Engels) moet verleen. Geen aanvullende fondse word hiervoor beskikbaar gestel nie. In feite hef die regerings in sulke gevalle `n taal-“taks” wat die Afrikaanse gemeenskap vir die gebruik van Afrikaans moet betaal.  

Oor die algemeen is daar geen tekort aan onderwysers in die land nie, maar ernstige tekorte aan onderwysers en leerlingonderwysers  in die wetenskappe, wiskunde en die handelsvakke bestaan wel en hierdie krisisse sal waarskynlik erger word.  

 Uit die ontledings wat onder andere deur dr. Huw Davies ten opsigte van die onderwysopleding in die noordelike provinsies gemaak is, blyk dit baie duidelik dat een van die grootste enkele probleme van Afrikaans-medium skole die toekomstige tekort aan leerkragte gaan wees. Studies van onderwysunies in die noordelike provinsies dui aan dat daar ‘n tekort van nagenoeg 1800 Afrikaanstalige onderwysers is en dat die tekort gaan binne die afsienbare toekoms tot om-en-by 70% van die aanvraag styg, dws , dws net drie uit die nodige tien onderwysers word tans gelewer vir dit wat die onderwys oor 5-7 jaar nodig gaan hę. 

 Daar is swak beplanning by die regering vir die voorsiening van onderwysers. Geen provinsie buite die Wes-Kaap beplan vir die toekomstige behoefte aan Afrikaans-medium onderwysers nie. Daar is groot tekorte aan klaskamerruimte, veral in die provinsies van Wes-Kaap en Gauteng waar die grootste bevolkingtoestroming is. 

  Die probleme kan aansienlik vererger word deur die wetsontwerp oor onderwys wat vanjaar voor die Parlement sal dien. Indien die beheerrade se magte drasties ingekort word en die ou-Model C-skole verder “getransformeer” word, mag die meer welgestelde ouers in aansienlike getalle besluit om eerder hul kinders na Engelstalige privaatskole te stuur. Dit kan `n baie gevalle `n nekslag beteken vir die Afrikaansmedium Model C-skole, wat nog gehalteonderwys lewer. Dit kan selfs lei tot `n betekenisvole mate van hersegregering van die Afrikaanse onderwys. Dit kan verdere druk op universiteite plaas om die aanbieding van Engelsmedium klasse te vergroot.  

As gevolg van die beperkte en steeds kwynende finansiële bronne en regeringsdruk word Afrikaanse hoërskole en universiteite gedwing om kompromieë oor taal en standaarde te maak wat hul tradisionele ondersteuningsbasis vervreem en die moontlikheid van private skenkings knou.  

Die oorlewingstryd dwing ook Afrikaanse universiteite om teen mekaar te kompeteer en  laat ook vir die regering die maklik opsie om hulle teen mekaar af te speel. 

Die negatiewe regeringsreaksie op die Gerwel- en Alexander-verslae, dui daarop dat die regering nie gretig is dat bepaalde instellings spesifiek vir Afrikaans (en ander minderheidstale) verantwoordelikheid aanvaar nie 

Die respons van die Afrikaanssprekende gemeenskap was tot dusver traag. Die faktore hiervoor verantwoordelik is, sluit in: 

·        ‘n Vertrouenskrisis, wat vermoedelik verband hou met magsverlies, skuldgevoelens oor apartheid, ‘n leiersvakuum en die rol van die Afrikaanse media wat, anders as in ander krisistye, hom grootliks neutraal hou of louwarm in sy ondersteuning is.

·        Die vrees dat enige protes teen die regering se onderwysbeleid gebrandmerk sal word as rassisme en teenstand teen die dominante ideologie van transformasie. Die regering dring onverbiddelik aan dat die reg op toegang  (lees: deur die medium van Engels) voorkeur moet geniet bo die gemeenskap se reg om onderwys aan te wend om ‘n bepaalde taal en kultuur te bestendig  en uit te bou. Saam hiermee gaan die regering se aandrang dat alle instellings die bevolkingsamestelling moet weerspieël, wat in die praktyk neerkom op gedwonge aanstellings van dosente wat nie wit is nie, nie Afrikaans magtig is nie en aansienlik swakker kwalifikasies het. 

·        `n wydverspeide gevoel van gelatenheid wat spruit uit die persepsie dat die pro-Engelse regering al die wapens in sy hande het en dat die magte van globalisering en verengelsing op globale skaal onstuitbaar is.   

Die wyse waarop met hierdie krisis gehandel word, sal bepaal of Afrikaans as taal van hoë akademiese diskoers en openbare kommunikasie bly voortbestaan.

 

2  Die huidige stand van die onderwys  

 (a) die oue en nuwe stelsel 

Die Heese- verslag, wat hierby gevoeg word,  dui aan dat hoewel die voor-1994 stelsel groot gebreke gehad het (swak legitimiteit en onderbefondsing veral wat swart skole betref) dit ook beslis bates gehad het. Dit sluit die volgende in: toenemende institusionele outonomie, goedfunksionerende Model C-skole en gemotiveerde onderwysers in veral die blanke en Indiërskole. 

Die huidige stelsel het bates (breë legitimiteit en `n regverdige verdeling van fondse) maar het onteenseglik ook groot laste (veral die verlaging van norme en standaarde, die ondermyning van institusionele outonomie en die kwynende moraal van  onderwyspersoneel). 

 Die mees kommerwekkende aspek is dat die staat op die betalende ouers se rug ry om hoë gehalte Model C-skole in stand te hou sonder om die gehalte van die township skole te verbeter en nogtans toenemende druk op eersgenoemde uitoefen.  

Veral buite die Wes-Kaap was daar `n uitgebreide ondermyning van onderrig deur middel van Afrikaans, en veral enkelmedium Afrikaanse onderrig. Dit was in sommige opsigte  `n newe-effek van die stroom weg van die lae gehalte skole in die townships na die ou Model C-skole. 

 Terselfdertyd was daar van die kant van die amptenary ‘n meedoënlose druk vir verandering, nou ook in die Wes-Kaap. Die departement wil die finale seggenskap hę oor hoe ruimte gevul moet word, watter leerders ingeskryf word, en watter voertaal gebruik word  

Amptenare wat onlangs die departement verlaat  rapporteer dat daar opdrag van mense in die hoogste gesagsposisie is om alles te verander. Van die oue mag niks oorbly nie.  Hierby moet gevoeg word die gebrek aan deeglike beplanning en navorsing oor die verwagte groei van leerdergetalle. 

(b) afname van Afrikaanse enkelmediumskole en Afrikaanse leerders 

`n Detail-studie het gevind dat in  die ses noordelike provinsies daar `n afname was van `n totaal van 1396 Afrikaanse enkelmedium skole tot 844 Die getal leerders wat deur medium Afrikaans in die ses provinsies onderrig word, het met 8 persent afgeneem. By verre die meeste Afrikaans-medium skole is tans in die Wes-Kaap. Daar word geprojekteer dat daar teen 2013 ongeveer 1,2 miljoen Afrikaanse kinders in die stelsel sal wees. 

Ons meningsopname toon die volgende landswyd: 

  • Ongeveer 60 persent wit Afrikaanse kinders woon enkelmedium Afrikaanse skole by.

  • `n kwart is in parallelmedium staatskole

  • 14 persent is in Engelsmedium staat-en privaatskole.

Talle Afrikanerouers skryf kinders op `n vroeë stadium by  Engelsmediumskole in die waan dat hulle vir hul kinders `n lewensvoordeel gee.`n Massiewe opvoeding-en voorligtingstaak is nodig om ouers oor die waarde van moedertaal op hoogte te bring. 

Wit Afrikaanse ouers is nie op hierdie tydstip uitermate bekommerd oor die kwyning van moedertaalonderrig nie.  Die kompleksiteit van hul houding oor moedertaalonderwys blyk uit die volgende reaksies 

  • 87 persent beskou moedertaal onderrig  abstrak as belangrik of baie belangrik,

maar: 

  • `n volle 35  persent het nie  beswaar teen die toenemende gebruik van Engels nie en slegs 17 persent sal protesteer. Daarteenoor sal 48 persent voel dat dit kultuur ondermyn

  • net 11 persent is bereid om ekstra vir moedertaal onderrig te betaal as dit nie beskikbaar is nie, maar 59% sal sterk optrede steun as Afrikaanse moedertaalonderrig nie meer beskikbaar is nie.

 Daar is eintlik hier van `n “taal-skisofrenie” sprake. Dit kan deels  toegeskryf word aan die historiese ingesteldheid dat “die staat moet sorg en deels aan die gevoel van politieke magteloosheid onder minderhede. 

 Daar is ook nog steeds goed gekwalifiseerde Afrikaanse onderwysers in die Afrikaanse skole.  So lank as wat hierdie Afrikaanse onderwysers in staat is om Afrikaans as taal, die kultuur en dissipline te handhaaf, sal daar nie besondere kommer onder ouers oor die kwyning van moedertaal onderrig wees nie.  Ouers is tans geneig om die invoer van Engelsmedium klasse in `n Afrikaanse skool as ‘n aanwins eerder as ‘n bedreiging te sien.   

Indien dit egter sou gebeur dat die personeel “getransformeer” word en dat  saam daarmee Afrikaans gemarginaliseer word, sal daar ‘n groot styging van die vlakke van kommer en ontevredenheid plaasvind, soortgelyk as dié wat ons tans onder Indiër-ouers sien.  Soos ons gesien het, sal drie-vyfdes sterk optrede steun as moedertaal onderrig nie meer beskikbaar is nie. Dit sal dan feitlik seker te laat wees vir effektiewe protes. 

Hierdie is `n kwessie waar die leiersgroep van die onderskeie minderhede standpunt moet inneem, veral in die lig van die feit dat die gewone mense en selfs joernaliste nie altyd kennis dra van die prosesse waardeur `n kleiner taal soos Afrikaans uitgedruk en later heeltemal in `n skool of `n universiteit verplaas kan word nie. Węreldwyd is die tendens dat die kleiner taal onder ernstige druk kom waar dit saam met `n węreldtaal bestaan onder ‘n beleid van parallel-of dubbelmedium. 

Daar is modelle bekend waar die onderrig deur middel van meer as een medium `n verrykende taalmilieu skep.  Inligting oor sulke modelle moet landswyd aan skole gestuur word waar parallel medium `n voldonge feit is. 

(c) simboolinflasie   

By die konferensie van 4-5 Junie het prof prof Carools Reynecke `n gevallestudie aangebied wat aandui dat daar `n daling van eindeksamenstandaarde is wat lei tot dramatiese simboolinflasie. 

(d) ontevredenheid oor die gehalte van onderwys 

Breedweg gesproke is die mense wat die meeste tevrede is met onderwys die kategorie van arm swartmense. Onder die wit en Indiër-minderhede is daar egter groot ontevredenheid. 

Die volgende persentasies van ouers voel of ontevrede met die huidige onderwys, of pessimisties oor die rigting wat onderwys inslaan. 

·   Wit Afrikaans:      79%

·   Wit Engels:           70%

·   Indiërs:                 78% 

·   Bruin:                    41%

·   Swart:                   31% 

·   Alle groepe:         41%

 

Dit is inderdaad ‘n somber prentjie waar vier uit tien ouers in die land of ontevrede met die onderwys is of nog tevrede is maar ’n verslegting in die stelsel waarneem.   

Oor die algemeen is die ouers baie ontevrede met Uitkomsgebaseerde Onderwys en die veranderings in leerplanne en regulasies  Wat die Afrikaners spesifiek betref kan hierby gevoeg word swak dissipline, bemoeiing deur regering met skole, oorvol klasse, dalende standaarde, bekostigbaarheid, godsdiensbeleid en rassespanning.  

  Indiërs is die ouers wat in die algemeen die meeste ontevrede is.  ‘n Belangrike rede hiervoor is dat Indiër-ouers tyd en baie energie in die opbou van hul skole gedurende die apartheidsera bestee het.  Die kwaliteit van hierdie skole het verbeter tot waar hulle amper gelyk was aan die standaarde van blanke skole.  Vandag is hierdie skole egter in ‘n buffersone tussen die swart en hoofsaaklik wit woongebiede.  Groot getalle swart leerders het daarheen gestroom en nuwe onderwysers is ook aangestel.  Die hele karakter van Indiër-skole het verander.

 Indiërouers vertolk nie die probleem in rasseterme nie. Hulle sien hul kinders in `n posisie waar hulle blootgestel word aan ‘n hele reeks sosio-ekonomiese probleme en aan leerders wat heeltemal verskillende lewenstyle het en probleme het om in hul tweede taal te leer.  Die spoed van verandering het klaarblyklik die skole ontwrig wat die ouers gedurende die voor-1994 era ondersteun het.

Wittes wie se kinders openbare Afrikaansmediumskole bywoon, is die mees ontevrede subgroep in die blanke gemeenskap. Diegene wie se kinders parallelmedium skole bywoon, is gelukkiger.

Dit is nie moontlik om presies uit te spel waarom die wit Afrikaanssprekendes ontevrede met die Afrikaanse enkelmedium skole is nie, maar `n belangrike faktor is ongetwyfeld dat  heelwat meer kinders uit voorheen benadeelde gemeenskappe nou hul onderwys in voorheen wit Afrikaanse skole ontvang as in die voorheen wit Engelse skole.   

 Dit is ook moontlik dat die kontras tussen huidige Afrikaanse skole en die homogene, goed georganiseerde en gemotiveerde enkelmedium wit Afrikaanse skole van ouds Afrikaanse ouers ontevrede laat voel met die huidige stand van hul kinders se skole. Daar kan sekerlik nie aangeneem word dat ouers teen enkelmedium skole as sodanig gekant is nie.

Daar moet daarteen gewaak word om die ontevredenheid bloot as rassisme of die vasklou van blanke bevoorregting af te kraak. Indiërouers voel in baie opsigte sterker oor die veranderings wat by hul skole ingetree het as wit Afrikaanse ouers.

By Kleurlinge is daar klaarblyklik groot probleme in die onderwys. Die slaagsyfer vir Kleurlinge in die senior sertifikaat-eksamen het tussen 1993 en 2003 gedaal het (die enigste van al die groepe waar dit gebeur het) en daar is tans minder Kleurlinge per duisend wat Graad 12 voltooi as swartes (326 teen 489)

Die werkloses en die ekonomies nie-aktiewe swart mense is minder ontevrede as werkende mense. Die mense met tersięre opleiding nogal tevrede, anders as in die geval van wittes.  Die professionele werkers is egter baie ontevrede.

 Oor die algemeen is die patroon by bruinmense dat die groeperinge wat minder gesofistikeerd is en minder blootgestel is aan die markekonomie minder ontevrede met die voorsiening van onderwys is. Daar is by hulle ’n gelatenheid en dankbaarheid vir enige diens, wat nie by die werkende stedelinge teenwoordig is nie.    

(e) gebrek aan rekrute vir onderwysopleiding 

Die gebrek aan rekrute vir opleiding as onderwysers is `n ernstige probleem. Die volgende is die belangrikste redes wat ouers aangee vir die ongewildheid van onderwys as loopbaan 

·        Die persepsie van `n ooraanbod (39 persent)

·        Salarisse (21 persent) 

By die konferensie was daar aanbiedings hieroor van  prof Hall van Wits, mnr Davies van die TO (nou SAOU) prof Parks, Dekaan van Opvoedkunde aan US, en prof Hennie Steyn, Dekaan van die Opvoedkunde op Potchefstroom. 

In die Wes-Kaap is die toestand van skole en onderwysvoorsiening deur middel van Afrikaans redelik stabiel. In `n opname van prof Parks van Graad 11 leerders in die distrik Stellenbosch word getoon dat die meeste leerders `n goeie indruk van die onderwys het, van skoolhou as `n professie en van die kundigheid van onderwysers. Hulle meen nietemin dat daar `n tekort aan onderwysers in sekere vakke is. 

 Die Universiteit van Stellenbosch trek tans goeie kwaliteit studente as leerlingonderwysers.  Die studie het nie ingegaan op die kwessie of daar `n voldoende aanbod van wiskunde- en wetenskaponderwysers is nie. Die Stellenbosch omgewing, waar die studie onderneem is, is nie verteenwoordigend van die hele land nie. 

In die noordelike helfte van die land is Engels die dominante taal van opleiding.  In die ou Transvaal geskied die indiensopleiding van onderwysers in al die provinsies deur die onderskeie onderwysdepartemente grotendeels in Engels.  Nagraadse programme vir onderwysers by die meeste van die universiteite, wat veral in die lig van die nuwe befondsingsformule hulle finansiële rieme fyn moet sny, is oorwegend in Engels.  

Opleidingsmateriaal – ‘n mens kan hier aan die nuwe hersiene nasionale kurrikulumverklaring as voorbeeld dink – word grotendeels in Engels opgestel, wat die Engelse begripswęreld en benadering dus vergestalt, en daarna vertaal (ook nie in al die land se tale nie), wat meebring dat die begripswęreld en didaktiese vereistes van die moedertaalleerder nie doeltreffend aangespreek word nie. 

Die getal skoolverlaters, met die nodige bevoegdhede en kwalifikasies vir onderwysersopleiding in wiskunde en wetenskap, sal waarskynlik nie met die gewone metodes beskikbaar kom nie.  Hulle sal veel meer winsgewende loopbane kan kies. Daar sal dus   steeds ‘n tekort aan kwaliteit onderwysers, en spesifiek in bogenoemde vakke of leerareas sal wees. 

Prof Steyn het die noodsaak onderstreep vir `n ondersoek na die die spesifieke behoeftes van die Afrikaanse gemeenskap. Behalwe die onderwysdepartment van die Wes-Kaap het die departemente van ander provinsies nie syfers vir vraag en aanbod van Afrikaansmedium onderwysers nie. 

 Nuwe, kreatiewe oplossings vir die voorsiening en opleiding van Afrikaanssprekende wiskunde en wetenskaponderwysers is broodnodig.  Indien hierdie oplossings nie gevind word nie, sal die knap Afrikaanse leerders wie se ouers dit kan bekostig in groot getalle na Engelse privaatskole gaan.           

Een van die moontlikhede wat ondersoek kan word, is vir die Afrikaanssprekende gemeenskap om met die regering `n kontrak te sluit vir die opleiding vir onderwysers om in Afrikaanse skole geplaas te word. Dit behels dat die regering, soos in België, Nederland en Kanada, hom bereid moet verklaar om te onderwys te voorsien aan minderheidsgroepe onderwys ooreenkomstig hul unieke religieuse en kulturele/taalbehoeftes. 

 Die uitgangspunt kan wees  dat die taal van onderrig  ‘n belangrike aspek is in die vlak van effektiwiteit wat in die onderwys behaal word.  Onderwysregte van minderheidsgroepe elders word bepaal deur die aanvaarding dat minderheidsgroepe geregtig is op maksimale effektiewe onderwys. 

Dit is byvoorbeeld duidelik uit onlangse studies dat: 

  • onderrig deur medium van Engels, nie-moedertaalsprekers van Engels nie beter voorberei vir ’n oorwegend Engelstalige werksomgewing nie

·        die meerderheid van leerders op tersięre vlak nie kognitief, taalontwikkelingsmatig en emosioneel gereed is vir onderrig deur medium van ’n nie-moedertaal nie 

Daar is in die Afrikaanse gemeenskap nog steeds groot onsekerheid oor hul regte ten opsigte van taal en onderwys.  Steyn wys daarop dat die onderwysregte van minderheidsgroepe in verskillende internasionale ooreenkomste vasgelę word, byvoorbeeld “The Convention against Discrimination in Education” (1960) en “The United Nations Convention on the Rights of the Child” (1990) van die Verenigde Nasies.  In die verskillende konvensies word die reg van kinders van minderheidsgroepe om onderwys ooreenkomstig hul unieke religieuse en kulturele behoeftes te ontvang, erken.  

3 Ad hoc-voorstelle om die krisis te hanteer deur eie inisiatiewe 

1 Iets daadwerkliks sal moet gedoen word oor die gesindhede van Afrikaanssprekende ouers teenoor onderwys. Veral van groot belang is die wyse waarop daar oor hierdie kwessies in koerante en tydskrifte verslag gedoen word. Sonder die regte gesindhede kan geen vordering verwag word nie. Afrikaansprekende ouers moet aandring op hul regte maar moet terselfdertyd besef dat Afrikaanse onderwys slegs kan gedy binne die raamwerk van `n doeltreffende onderwysstelsel wat aan die behoeftes van skoliere van ander gemeenskapppe voldoen. Die Oud-Model C-skole sal nooit as eilandjies kan funksioneer nie.  

2 `n Sekretariaat van afgetrede onderwysbeplanners en regsgeleerders moet dringend in die lewe geroep om 

  • die behoefte van Afrikaanse onderwysers in skaars vakke te bepaal

  • modelle te ontwikkel om, waar parallel-medium `n voldonge feit is, `n taalbeleid te volg wat `n verrykende taalmilieu tot gevolg het

  • `n  geko-ordineerde poging van stapel te stuur om die bestaande en verwagte gebrek aan onderwysers vir hoër graad wiskunde, wetenskap en tale na te vors en aansporings  te ontwikkel vir leerlingonderwysers in die vakke

  • konsep onderwyswetgewing en onderwyspraktyke noukeurig na te vors, vroegtydig te waarsku teen wetsontwerpe en regulasies wat  inbreuk maak word op bestuursoutonomie en aanbevelings te doen vir geregtelike optrede

  • voorlopig te beplan vir die stigting van privaatskole indien die beplande onderwyswetgewing die outonomie van beheerrade vernietig

  • aanvullende leerstof vir skaars vakke maar ook vir “kultuurvakke” soos Geskiedenis te ontwikkel

  • te begin met die taak om `n nuwe ‘n nuwe eksamineringsmeganisme te identifiseer. Die finale meganisme is internasionaal-geykte toetse. Daar word vermoed dat die staat gegewens het wat aantoon dat standaarde daal.

  • `n drukgroep te vorm om die regering te oortuig van die wenslikheid (vir kinders van alle gemeenskappe) van optimale bestuuroutonomie in staatskole

  • die besture van universiteit te oorreed om fondse beskikbaar te stel vir navorsing in die behoeftes van Afrikaansmedium onderwys en in die vraag na onderwysers.

3 Wat regstellende stappe, milieuskepping, rekrutering en bevestiging van Afrikaanse universiteite betref, is dit die taak van Afrikaanssprekendes om

o     te soek na vennote om met die regering in gesprek te tree oor onderwysbeleid

o     strukture te skep om die Afrikaans-spesifieke take aan te voor

o     daarop aan te dring dat opvoedkundige instellings jaarliks verslag doen oor die tendense ten opsigte van die gebruik van voertaal  

Wat hier ter sprake is, is die vestiging van ‘n klein, vertakte burokrasie gerugsteun deur ‘n navorsingsgroep. 

Desember 2004 

4 `n Fundamentele benadering tot die krisis: onderhandelings met die regering 

Nota: Hierdie laaste deel van die verslag is in Januarie 2005 geskryf: 

Daar is twee moontlik maniere waarop die krisis op `n meer fundamentele wyse te benader deur middel van onderhadelings met die regering. Dit word met verwysing na twee alternatiewe opsies bespreek. 

(a)    Opsie 1: Vertoë tot die Minister van Onderwys  

Daar is ’n reeks voor-die-hand liggende aanbevelings wat uit ons vorige twee verslae  voortvloei. Die meeste van hulle hou met die huidige beleid en administratiewe toepassing daarvan verband. In die verslag word bepaalde voorstelle gemaak en ook die moontlikheid genoem van spesifieke vertoë tot die regering.  

Ons het egter weer daaroor besin en voel dat vertoë tot die Minister van Onderwys waarskynlik min vrugte sal oplewer en nie die fundamentele krisis van Afrikaanstalige instellings sal oplos nie.  .

Die redes hiervoor is eenvoudig.

·        Ons regering aanvaar nie maklik raad van buite sy eie geledere nie.

·        Dit is ook duidelik dat die regering met aanbevelings en raad oor hervorming van die onderwys oorval word, en baie van die insette word sonder veel sukses deur organisasies gemaak wat, agv hulle vakkundige status by die onderwysburokrasie, meer gewig dra as wat enige vertoë van ons projekspan sal doen.

·        ’n Derde rede is die feit dat meeste van die amptelike optredes wat kommer wek deur die intense en deurlopende druk vir onderwysgeleenthede vir swart leerders gedryf word.  Spesifieke vertoë aan ’n minister sal in die meeste gevalle deur die advies van amptenare geneutraliseer word.

·        Die kabinet self plaas toenemende druk op die amptenary om die vlak van lewering (“delivery”) te verbeter en die maklikste roete tot die uitbreiding van geleenthede vir swart leerders is om as ’t ware beslag te lę op die hulpbronne, geriewe en klaskamer-ruimte binne die voormalige “model C” skole wat deur die kinders van middelklas minderhede bygewoon word.  

Om al hierdie redes sal die resultate van enige suksesvolle vertoë aan die minister altyd deur die uitwerking van die druk van swart leerdergetalle beperk of gekwalifiseer word.  

Die informele insette van Wes Kaapse amptenare by ons konferensie het baie duidelik getoon dat in hulle persepsies die voormalige model C skole nog steeds oorgenoeg ruimte en geriewe het om hul geleenthede met nuwe swart leerders te deel, en dat Afrikaanse moedertaal-onderrig glad nie in die gedrang is nie.  

’n Verdere belangrike faktor is die feit dat wit Afrikaanssprekende leerders oor die algemeen bo-gemiddeld in graad 12 eindeksamens presteer wat die indruk by baie van die amptenare skep dat Afrikaanse onderwys nog steeds bevoordeel is. Dit is dus uiters onwaarskynlik dat die huidige amptenary enige spesiale vertoë namens Afrikaanse moedertaalonderrig op administratiewe vlak sal ondersteun.     

Opsie 2 

`n Omvattende, langtermyn benadering: `n kompak met minderhede oor taal en onderwys 

Dit het in ons finale besinning in die tweede week van Januarie 2005  vir ons baie duidelik geword dat ’n breë, langtermyn benadering gevolg behoort te word. (Dit sluit egter nie uit dat sekere van die ad hoc voorstelle uitgevoer word om die onmiddellike krisisse te besweer nie).  

Die wesenlike aangeleenthede en probleme in Afrikaanse onderwys moet op ’n vlak aangespreek word wat bo die geknoeiery op die administratiewe en leweringsvlak verhef is en die twisteen verdelinge in Afrikaanssprekende geledere kan oorkom. 

 Dit moet op die vlak van die beginsels van ’n demokratiese orde gedryf word, en in besonder moet die onderwysprobleme deel uitmaak van ’n aksie rondom minderheids-en-kultuurregte in ’n multi-kulturele bevolking.  As sodanig moet die aksie op die hele regering gerig word met die President en sy kantoor as kanaal. 

Gegee die werklikhede van hedendaagse politieke simboliek kan aksies nie slegs namens Afrikaans of spesifiek binne die Afrikaner-kultuurveld beraam word nie. Die kulturele en opvoedkundige belange by ander minderhede moet ook ten volle ondervang word, soos in die geval van die taalraad Pansat. Maar terwyl die rol van Pansat binne die huidige politieke werklikhede tot die van ’n besonder nederige adviserende instansie beperk word, behoort enige nuwe inisiatief op iets wat ambisieus, oordeelkundig en lewenskragtig is gemik te wees.  

Wat ons in gedagte het is ’n program en optredes wat uiteindelik op ’n verdrag of “kompak” oor die lewensruimte vir minderheidskulture, en gepaardgaande beginsels en vir `n gewaarborgde plek vir Afrikaans sal kan uitloop. Uiteraard sal die Afrikaanstalige minderheid  die een wees wat vanweë sy besondere behoeftes die graagste so `n akkoord sal wil sluit. Daar kan egter nooit spesiale voorregte vir die Afrikaantalige gemeenskap gevra word nie, en die Afrikaanstalige “entrepreneurs” moet bereid wees om, as hulle gevra word, alle ander minderheidsgemeenskappe met besondere taalbehoeftes met raad en daad by te staan  

Die taal-en kultuur kompak sal ’n “kode van beste onderwys-en kultuurpraktyke” moet beliggaam.  Dit sal ’n kode moet wees wat die voorskrifte en gees van die grondwet as vertrekpunte neem. ’n Belangrike implikasie van ’n grondwetlike vertrekpunt sal mettertyd wees dat een of meer van die kernklousules in die kode in ’n grondwetlike hofsaak getoets sal moet word.   

Uit die aard van die saak sal die uiteindelike doelwitte nie vinnig of maklik bereik kan word nie. So ’n inisiatief sal ’n baie lang asem moet hę, en sal heelwat mobilisering, onderhandeling met spreekbuise van ander kultuurminderhede, gesamentlike beplanning en grondige verdere navorsing moet behels.  

Indien daar ondersteuning sou wees vir die strategiese visie wat baie kortliks hierbo uitgestippel is, sal sekere opvolgaksies vroegtydig moet plaasvind. Vier take word as eerste stappe voorgestel: 

·        Die voorbereiding van ’n “scenario” oor hoe die onderwys, insluitende moedertaalonderwys, asook die breëre kultuuropset in die land, oor ’n dekade sal uitsien indien huidige beleid en nasionale bestuurspraktyke sonder beďnvloeding en nuwe insette voortgesit sou word. Die scenario sal gebruik moet word in die mobilisering van steun vir die beoogde kompak oor minderheidstale en -kultuur. Dit sal spanwerk verg aangesien insette nie slegs oor taal en kultuurwendinge gemaak moet word nie maar ook die demografie, sosio-ekonomiese omstandighede van belangrike minderhede en ontluikende kenmerke van ons demokrasie moet verreken. Insette van regeringskant en die burgergemeenskap sal natuurlik ook verkry moet word. Die outeurs sal die verantwoordelikheid moet aanvaar om die samewerking van ’n gepaste groep deskundiges vir die taak te verkry – ’n  groep wat nie-rassig saamgestel sal moet wees en wat ook alle leidende politieke en ideologiese tendense en faksies sal moet insluit. 

·        Die reëling van ’n deskundige “werkswinkel” oor die minimum kriteria waaraan ’n volwaardige demokrasie in ’n ontwikkelende land getoets moet word ten opsigte van lewenspeil en welsyn, taalregte in die praktyk,  kultuurvryheid, variasies van lewensstyle, onderwystradisies, godsdienstige norme en praktyke, ens. Insette van regeringskant asook van toonaangewende buitelandse deelname sal noodsaaklik wees. 

Daar sal veral klem gelę word op die implikasies vir die onderwys, insluitende universiteitsopleiding. Onder die instellings in ’n land het onderwys, soos in die geval van die bestuur van die ekonomie, die breedste implikasies vir die land en sy bevolking. Die toekoms van ons ekonomie, nasionale versoening, taal-en-kultuuroorlewing en die bekamping van ongelykhede en armoede sal in ’n aansienlike mate binne en deur die onderwys bepaal word. Omdat elkeen van hierdie belangstellingsvelde besondere, en soms teenstrydige eise aan die onderwys stel, moet onderwysbeleid daarop gerig word om verskillende nasionale doelwitte te harmoniseer en om ‘n optimale balans tussen wyd uiteenlopende behoeftes te vind. Nog in die “ou” en nog  in die “nuwe” Suid Afrika was dit die geval. Die onderwys is nog steeds die speelveld van ideoloë en hul tegnokrate. Vandag is dit duidelik dat die onderwys ’n baie duur prys hiervoor betaal.

Wat die Afrikaanssprekendes betref is daar `n dringende noodsaak om veral die posisie van bruin skole en die gebrek aan geskikte kandidate vir universiteitsopleiding te ondersoek.  Hierdie onderwerp sal ’n belangrike subtema van die werkswinkel uitmaak.  

Die verrigtinge van die werkswinkel sal gebruik word om ’n grondslag te bied vir ’n konsepkode wat as sakelys sal kan dien in verdere raadpleging binne die program.  

·        ’n Verkenning van die belangstelling vir so ’n projek onder invloedryke lede van beduidende taal-en kultuurminderhede in die land insluitende bruin Afrikaanses, wit Afrikaners, Indiërs, Jode, mense van ’n Khoi-San agtergrond, Afrika taalminderhede, spreekbuise vir tradisionele swart kultuur, sekere godsdienstige minderhede, ens, asook Engelssprekende kultuurminderhede by wie daar ’n behoefte bestaan vir die beskerming van sekere geskiedkundige inhoude en standaarde. Die verkenningsaksie sal binne netwerke in die samelewing gevoer moet word en sal deur ’n groep deeltydse medewerkers uitgevoer moet word. Dit sal uiteindelik moet uitloop op ’n strategiese taal-en kultuurkongres Hier moet breë samewerkingsbeginsels en die inhoud van die program op ’n basis van voldoende eenstemmigheid uitgeklaar word. 

·        Die vorming van ’n Taakspan om die program verder te voer en om die nodige materiële hulpbronne in te samel vir die belangrike take wat na hierdie vier eerste take sal moet volg.     

Die voorstelle hierbo is baie omvattend en sal heel moontlik gesien word as “verregaande” in die lig van die oorspronklike projek en sy befondsing. Ons is egter geensins weggevoer deur `n onbeteuelde idealisme nie. Die voorstelle is gegrond op ’n baie nugtere besef , wat bereik is na baie intense raadpleging en besinning: Afrikaans as voertaal, en uiteindelik as publieke taal, kan nie binne die bestek van die bestaande onderwysadministrasie en -beleid effektief beskerm word nie. 

Die probleme van Afrikaanse onderwys moet noodwendig deurgetrek word tot die kenmerke van ons ontluikende politieke stelsel, en as sodanig is die probleme nie slegs tot Afrikaanse onderwys beperk nie. Afrikaanse onderwys kan homself nie red nie, en in die lig hiervan moet daar noodwendig aan die groter taak gewerk word. Die toekoms van Afrikaans en al die ander minderheidstale en ook van `n belangrike deel van die onderwysstelsel hang daarvan af.       

Operasionalisering. 

  • Die Rektore van die US, UWK, UVS, RAU (tans die Universiteit van Johannesburg), UPE, UP en die UNW—almal met bepaalde historiese of huidige bande met Afrikaansmedium onderrig-- word gevra om elk twee lede te benoem om op `n loodskomitee te dien. Dit kan byvoorbeeld die Direkteur van Beplanning en die Dekaan van die Fakulteit van Opvoedkunde wees.  Die loodskomitee kan ook verteenwoordigers van die borge van hierdie verslag insluit. (Het Jan Marais Nationale Fonds, Naspers, en Dagbreektrust.)

  • Hierdie loodskomitee  besluit oor die uitbreiding van die loodskomitee tot `n beheerligaam of raad deur bepaalde instellings te nooi om `n verteenwoordigers te benoem. Hier word gedink aan instellings soos die federasies van beheerrade, onderwysunies, vakbonde, die Nasionale Taalstrategie, die Taalsekretariaat, Stigting vir die Bemagtiging in Afrikaans en navorsinginstitute met `n besondere belangstelling in moedertaalonderwys (Praesa en ander).

  • Die beheerliggaam bespreek die navorsingsprojek en wyse van funksionering

  • Die President van Suid-Afrika word ingelig oor die projek

  • ‘n Fondsinsamelingveldtog word geloods.

Terug boontoe

Onderwys Navorsing

Tuisblad


[1] Christo Viljoen, “Poor Matric Matric Results: Mother Tongue Education is the Answer”, ongepubliseerd.

 

Medewerkers

AGV


Klopnet


TABOK

 

 

Webmeester